Sunday, May 16, 2021

Met die maan gepla

Vanoggend twee uur met die begin van my nagwag, het die skrefies maan breed vir my geglimlag, en ek vir die maan. Daar was geen wolke in die lug nie, en die sterrehemel het helder geskitter. Aan ons bakboord kant was die gloei van Fortaleza duidelik sigbaar.

Daar was ook heelwat skeeps verkeer, maar met moderne tegnologie, kan ons hulle myle vêr sien, en hulle vir ons. Seiljagte het reg van rigting op die see wanneer prakties moontlik. Die groot skepe sal dus effe van koers verander om ons veiligheid te verseker. Wanneer ons egter op ń kop aan kop botsing afstuur, dan is dit veiliger om tien of meer grade na stuurboord koers te verander, aangesien die groter skepe nie so vinnig van koers kan verander nie. Die goue reël op die see is dat twee bote mekaar aan bakboord sal verby steek.

Die sterk stroom waarin ons tans seil, en goeie wind van agter af gee vir ons uitstekende seemyle. Thomas het my nounet ingelig dat ons die afgelope vier en twintig uur een honderd drie en negentig myl geseil het, ons beste tyd tot op datum. Op die oomblik vloei die stroom teen vier punt een knope, en waai die wind tussen vyftien en twintig knope skuins van agter af. Ons het gisteraand om en by nege uur ons groot windaf seil laat sak, en seil ons effe stadiger met ons voorste seil. Bietjie veiliger vir ons, en die seil is baie sterker. Ons behou nogsteeds goeie spoed, maar sonder die stres wat met die groot seil gepaard gaan.

Ons het boerewors op ons Weber gasbraaier gaar gemaak vir middag ete, en Thomas het ń massiewe meesterstuk van ń brood gebak. Agter sleep ons kunsaas rustig deur die water, op soek na ń Dorado of ń Wahoo. Ons het nog ń porsie Dorado in die vrieskas, en dalk sal ons dit eers moet gaar maak voordat ons weer ń vis sal kan vang. Dit gaan goed met almal op seiljag Jubilee, en verwag ons ń hele paar dae van hierdie uitstekende seil toestande. Lekker warm hier by ons. Hoop jy het ń goeie naweek gehad, en reg vir die week wat voorlê.

Groete tot volgende keer

Paul

If you don't understand Afrikaans, you can try Google translate 🧐

Sent from Iridium Mail & Web.

1 comment:

  1. Liefdegroete vir jou daar ver in die hitte. Hier is winter vinnig op pad. Jy het ons bewus gemaak dat die maan ons pla. Hoofpyne erg met volmaan. Boetie Marita en ek. Darem nie met die maan gepla nie. Haha

    ReplyDelete